Voelers van die kakkerlak: Jeroen Bosch in Suid-Afrika | Daniel Hugo

Die vondste wat ek van tyd tot tyd in tweehandseboekwinkels maak, het my al groot vreugde verskaf. Maar soms ontdek ek iets op my eie boekrak wat my literêre voelers in vervoering bring. Wat is ’n bibliofiel dan anders as ’n snuffelende kakkerlak wat deur die bindgom van boeke aangelok word?
Op soek na ’n ander boek kom ek af op ’n dun digbundeltjie (50 paginas) van Hans Wap, met die titel De zangeres zonder stem. Ek het geen idee hoe dit daar beland het nie. Dit is in 1974 deur die Rotterdamse Kunststichting gepubliseer en verskyn in die “Sonde”-reeks. Dié reeks behels “eenmalige uitgaven in een beperkte oplage, die in geen geval worden herdrukt”. Ongetwyfeld ’n skaars versamelstuk. Veral in Suid-Afrika.

Volgens die invoublad is Hans Wap op 18 Julie 1943 in Rotterdam gebore, en benewens digter is hy ook ’n grafiese kunstenaar wat sy werk al min of meer wêreldwyd uitgestal het. Die boek is geïllustreer met vyf tekeninge deur die digter self.

Gefassineer begin lees ek in die bundel en vind die gedigte besonder vermaaklik, met ’n oneerbiedige en bisarre humorsin. Nie om dowe neute nie word reëls van die Amerikaanse liedjieskrywer Randy Newman (1943- ) as ’n motto voor in die boekie aangehaal: “Who needs money/ when you’re funny” (uit “Sail Away”, 1972).

Ek steek vas by die gedig “Hyronimus B.” – nie net omdat dit Wap se ongedwonge humorsin demonstreer nie, maar ook omdat Hiëronimus (Jheronimus, Jeroen) Bosch al etlike kere sy verskyning in die Afrikaanse digkuns gemaak het.

Vanaf D.J. Opperman se “Jeroen Bosch” (uit Engel uit die klip, 1950), Breyten Breytenbach se “kom / groen Jeroen: / gee my – / ’n wurmrige soen” (uit Kouevuur, 1969) en W.E.G. Louw se omvangryke “Drieluik: Die tuin van aardse luste” (uit Vensters op die vrees, 1976) tot Johan van Wyk se manjifieke “hieronymus bosch se koringwa” (uit Deur die oog van die luiperd, 1976) was hierdie laat-Middeleeuse fantasmagoriese moralis die inspirasie vir twintigste-eeuse digters aan die suidpunt van Afrika.

Dit is sekerlik nie verbasend dat digters soveel aanklank by Bosch vind nie, aangesien sy skilderye dikwels die visuele uitbeelding (“picture-writing”) van spreekwoorde, metafore en woordspel is. Daar bestaan woordskeppings in die taal wat, letterlik verstaan, mosteragtige wesens oproep, soortgelyk aan dié in Bosch se skilderwerk – dink maar aan “vlêrmuis”, “muisvoël”, “kameelperd”, “seekoei”, “horingsmanslang”, ensovoorts. Dit het my tot die volgende vers verlei:

Bosch

in die taal se donker bos
loop allerlei
monsters los

uit die onbewuste bot
die mierleeu
en die vismot

vreesloos as semantikus
wis hy dit
Jeronimus.

(uit Die boek Daniel, 1986)

Bosch (c. 1450-1516) het internasionaal bekend geword vir sy apokalipties-surrealistiese skilderye vol fantastiese kreature waarin hy die mens uitbeeld as ’n gevangene van sy luste. Die mens is volgens hom onkeerbaar onderweg vanaf die ongeskonde Paradys van Adam en Eva via die verleidelike aardse bestaan na die verskrikkings van die Hel. Sy bekendste skilderye, “Die tuin van aardse luste” (c. 1505-1510) en “Die hooiwa” (c. 1561), is daarom ook triptieke wat hierdie drie stadia uitbeeld.

Hier, uiteindelik, is Hans Wap se gedig met my vertaling tussen hakies:

Toen de oude Hyronimus,
met een grijns rond de lippen,

het 1-harige penseel ter hand nam
riep zijn moeder uit de keuken

‘Junske, zulde ge nu’s wat schilderen
dat de mensen begriepen’

‘Joa Moeke’ antwoordde Hyronimus
en begon aan een koppel vogels
dat uit iemands reet vloog

zo gods vrije natuur in

(Toe die ou Hiëronimus
met ’n gryns op sy lippe,

die enkelhaar-penseel optel
roep sy ma uit die kombuis

“Seun, gaan jy nou ’n slag iets skilder
wat die mense kan verstaan”

“Ja, Mammie” antwoord Hiëronimus
en begin ’n paar voëls verf
wat uit iemand se agterent vlieg

reguit god se vrye natuur in).

Dit is histories en geografies korrek dat ma en seun in die Brabantse dialek met mekaar praat, aangesien Hiëronimus in ’s-Hertogenbosch in die hertogdom Brabant gebore is en lank daar gewoon het. Sy werklike naam was Jheronimus van Aken, maar hy het sy agternaam verander na Bosch as erkening aan sy geboorteplek. Hoe dit ook al sy, Hans Wap het hierdie gedig eweneens met ’n gryns op sy lippe geskryf.

Die voëls wat uit ’n sondaar se agterent vlieg, kom in die derde paneel van “Die tuin van aardse luste” voor. Daar sit ’n sataniese figuur met ’n voëlbek op ’n hoë kakstoel. Hy sluk die een sondaar ná die ander in, wat hy vervolgens in ’n rioolput uitskyt. W.E.G. Louw identifiseer hierdie figuur – in navolging van Dirk Bax se Beschrijving en poging tot verklaring van het Tuin der Onkuisheidsdrieluik van Jeroen Bosch (1956) – as die duiwel Modikak:

’n Entjie vorentoe sit Modikak op sy “troon” –
penspotjie as kroon, sy voete in kruike:
hy verslind met sy snawel sy slagoffers een vir een.
Deur die blou blaas van ’n derm val een in ’n vuilput …

Louw verswyg egter die feit dat daar ’n swermpie swaels uit die half ingeslukte figuur se anus wegfladder. Moontlik het hy hom die onthutste reaksie, sestien jaar tevore, van preutse lesers op D.J. Opperman se eksplisiete beskrywing van dieselfde toneeltjie herinner en dit opsetlik weggelaat. Die laaste drie strofes van Opperman se gedig, waarin Bosch self aan die woord is en waarin ook verwys word na sy triptiek “Die versoeking van die heilige Antonius” (c. 1501), lui soos volg:

Ag, Liefste! Kom dan, laat ons vlug uit die gebras
en skuil in mossel, horingpeul – en ver bokant
die kermis van die bose sweef in belle glas.

Want in my is die swaap, die visgelipte sot
wat elke toertjie van ’n towenaar befluit …
maar wonderwerke en Sy kruisiging bespot;

en, as ek God saam met Antonius aanroep,
is hy reeds daar wat van ’n nuwe geilte
roekeloos die eerste swaeltjies deur ’n tregter poep.

Die digter G.A. Watermeyer was gebelgd deur hierdie slotreël en het dit in verband gebring met Opperman se beskrywing in sy epiese gedig “Shaka” (uit Heilige beeste, 1945) van verskrikte sebras wat “snork en poepend omspring”.
Dit moet nou oorvloedig duidelik wees: Wanneer jy met Jeroen Bosch te doen het, vervaag die grens tussen die sublieme en die sotlike al te maklik. En dit het Wap skynbaar moeiteloos gedemonstreer in sy lieflike klein gedig wat so lank onontdek op my rak bly staan het.

Bronne

Bax, D. Beschrijving en poging tot verklaring van het Tuin der Onkuisheidsdrieluik van Jeroen Bosch. Amsterdam: Noord-Hollandsche Uitg. Mij., 1956.

Bax, Dirk. Hieronymus Bosch – his picture-writing deciphered. Rotterdam: A.A. Balkema, 1978.

Breytenbach, Breyten. Kouevuur. Kaapstad: Buren, 1969.

Hugo, Daniel. Die boek Daniel. Kaapstad: Human & Rousseau, 1986.

Kannemeyer, J.C. “Die Dertigers: W.E.G. Louw”, Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band I. Pretoria: Academica, tweede hersiene en bygewerkte uitgawe, 1984.

Kannemeyer, J.C. D.J. Opperman. ’n Biografie. Kaapstad: Human & Rousseau, 1986.

Louw, W.E.G. Vensters op die vrees. Kaapstad: Tafelberg, 1976.

Opperman, D.J. Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg en Human & Roussau, 1987.

Van Wyk, Johan. Deur die oog van die luiperd. Kaapstad: Human & Rousseau, 1976.

Wap, Hans. De zangeres zonder stem. Rotterdam: Rotterdamse Kunststichting, 1974.

Daniel Hugo
4 Augustus 2018

This article was published in: Africa Book Link, Fall 2018: Afrikaans Literature