‘Styg maar op en bespied die wydtes: jy sal geen vaderland vind nie’. Die rol van ‘grond’ in Suid-Afrikaanse historiese fiksie oor die 18de en 19de eeu | Dora Scott

Die huidige debat in Suid-Afrika wat handel oor politieke ‘grondhervorming’, simboliseer ’n oomblik van krisis binne die Suid-Afrikaanse nasionale identiteit (en sy verskillende gestaltes). As ’n duidelike merker van ras en klas is die besit van grond (of gebrek daaraan) ’n geweldige belangrike simbool in die Afrikaanse, maar ook Suid-Afrikaanse historiese narratief (Duncan, 2006). Die debat oor grond daag mense uit om vrae te stel oor hoe die Suid-Afrikaanse nasie tot stand gekom het en hoe ons daaroor dink (Green, 1999), maar forseer mense ook om teen wil en dank die problematiese verdeling van en geweld oor grond in die verlede in heroënskou te neem.

Die inter-generasionele trauma wat sedert die oprigting van die eerste Europese verversingstasie aan die Kaap in 1652 (Murray, 2009, vir haar werk oor die trauma van slawevroue in die Kaapkolonie), en die daaropvolgende konflikte oor land en natuurbronne by gemeenskappe spook, word ook deur die debat beklemtoon. Met die uitbreiding van die kolonie in die 18de eeu in ’n noord-oostelike rigting het ook die intensiteit van die struwelinge tussen die koloniale magte, die inheemse bevolkings en die boere-setlaars toegeneem. Nigel Penn (2005) skets ‘n aangrypende agtergrond oor hierdie struwelinge (1700-1815) aan die Noordelike grense van die Kaap.

Die historiese trauma en magsverdeling in die 18de-19de eeu is die vertrekpunt vir hierdie studie – hoe kan ons die rol van ‘grond’ en ‘die land’ (as simbole, maar ook as materiële objekte) binne Suid-Afrikaanse histories-literêre fiksie oor die koloniale tydperk verstaan? Wat kan ‘n analise van ‘grond’ in hierdie letterkunde bydra tot ons kennis van historiese en sosiale verhoudinge tussen karakters (histories en fiktief)? Die doel van hierdie artikel is nie om as teoretiese navorsingsvoorstel te dien nie, maar om eerder kortliks aandag te vestig op sekere tema’s en moontlike vrae wat hulself voordoen vanuit die Suid-Afrikaanse historiese literêre korpus. Sodoende kan daar ’n navorsingstudie ontwikkel word.

Carli Coetzee (2012) en Green (1999) stel interessante vrae oor koloniale historiografie en historiese romans in Suid-Afrika, terwyl en hierdie studie sal poog om daarop voort te bou. Die studie sal fokus op post-koloniale historiese fiksie (insluitend prosa, poësie en drama) wat tekste insluit na die publikasie van J.M. Coetzee se Dusklands (1974), wat afspeel in die Kaapkolonie van ongeveer 1750-1850. Die tydperk stem ooreen met die groeiende belangstelling in argiewe in Suid-Afrikaanse historiografie. Dit sluit in romans soos Buys van Willem Anker, Houd-den-Bek, Philida en Bidsprinkaan van Andre Brink, 1795 van Dan Sleigh, Unconfessed van Yvette Christianse, Missionaris van Elsa Joubert en die digbundel Lady Anne van Antjie Krog.

Die tekste weerspieël en ondersoek ’n wêreld in verandering, wat literêr en histories geleë is in die niemandsland tussen die begin van Europese teenwoordigheid (dink maar aan Dan Sleigh se ‘Eilande’, of ‘Pieternella van die Kaap’ van Dalene Matthee) en 19de-20ste eeuse verhale (byvoorbeeld Karel Schoeman se ‘Hierdie Lewe’). Behalwe vir die werk van André Brink, die publikasie van ‘Lady Anne’ en etlike slawe romans, is dit weer in die jare ’90, met die erkenning van Saartjie Baartman as simbool van die onderdrukking van kolonialisme in Suid-Afrika, dat daar ’n groeiende bewussyn van en belangstelling in die koloniale tydperk ontstaan.

Stoler nooi ondersoekers uit om argiewe ‘teen die grein in’ te lees (2009), deur ook aandag te skenk aan wat gebeur wanneer die riglyne wat die koloniale amptenare gebruik om mense binne hulle rekords te klassifiseer, onvoldoende word. Dit is hierdie oomblik van epistemelogiese onsekerheid waar vele ondersoekers met hul navorsing begin. John en Jean Comaroff (1992) gebruik, soos Stohler, etnografie in hul analise van die geskiedenis van die Tswana van Suid-Afrika, maar benader veral die rol van die ‘historiese verbeelding’ binne algemene geskiedskrywing krities. Dit is juis hierdie ‘historiese verbeelding’ wat ’n essientiële onderdeel vorm nie alleen van geskiedskrywing nie, maar ook van historiese letterkunde. Deur die antropologiese invalshoek van Stoler en die Comaroffs te volg, poog hierdie studie om die letterkunde ‘teen die grein’ te lees. So sal die verowering of verlies, verwerking of verwildering van ‘grond’ nie as ’n vanselfsprekende gevolg van die koloniale ontmoeting beskou word nie, maar eerder as ’n beginpunt van waar die koloniale ontmoetings, verhoudings en grense en die uitbeelding daarvan in die letterkunde analiseer kan word.

In terme van historiese fiksie, lê ondersoekers binne Afrikaans veral klem op fiksie waarin die Afrikaansnasionalistiese identiteit óf verheerlik en versterk word, óf gedekonstrueer word (Burger, 2015). Die belangstelling van publiek en ondersoekers bly by meer onlangse geskiedenis van die Anglo-Boere Oorlog (ook bekend as die Suid-Afrikaanse Oorlog) van 1899-1902, tussen die plaaslike boere en bevolkings en die Engelse koloniale magte. Verskeie publikasies getuig van die belangstelling van skrywers en publiek, soos Fees van die ongenooides (P.G. du Plessis) of Niggie (Ingrid Winterbach), maar ook hewige debatte heers oor die waarde van historiese fiksie oor die tema, in o.a. Tydskrif vir Letterkunde (2015). In die opsig is die invloed van die post-modernisme op Suid-Afrikaanse historiese fiksie ook duidelik aanwesig, aangesien teenstrydige perspektiewe en die rol van voormalige randkarakters bydra om die narratiewe te problematiseer en die geskiedenis te kompliseer (Viljoen, 2002).

In samespeling met die koloniale agtergrond, kom die tema van die natuur, dier en landskap dikwels in die tekste na vore, byvoorbeeld deur Buys wat die Alpha mannetjie van die trop honde verslaan, Philida se verknogtheid aan Kleinkat of Galant se belangstelling in die perd. Albei karakters word deur die diere gevolg en hulle kan dus nie van die natuur ontsnap nie. Die tema kan bes verstaan word vanuit die ekokritiek, waar daar spesifiek aandag geskenk word aan die verhouding van die mens in en met die natuur binne die letterkunde In die Suid-Afrikaanse sosiale verbeelding en letterkunde word hierdie belangstelling veral vereenselwig met die konsep, ‘grond’. Ekokritiek bied ‘n alternatiewe blik en teoretiese moontlikhede vir letterkunde (Huggan en Tiffin, 2015); so word terminologie soos ‘wildernis’, ‘grond’, ‘plaas’, ‘landskap’ ook konsepsueel interessant vir hierdie studie.
Die navorsingsproses behels ’n kritiese benadering tot gefiktionaliseerde koloniale tekste binne die raamwerk van die post-koloniale en ekokritiese teorie. Die grootste doel sal dus wees om deur die konsep van ‘grond’, vanuit die ekokritiek en transdisiplinêre studies soos die van DeLoughrey en Handley (2011), raakpunte te ondersoek met ander teoretiese benaderinge vanuit die post-koloniale letterkunde. Deur ooreenkomste en verskille te identifiseer tussen die tekste, sal dit moontlik wees om ’n grotere blik te ontwikkel oor die konseptuele rol van ‘grond’ binne Suid-Afrikaanse letterkunde wat handel oor die koloniale tydperk.

Voorlopige navorsing het ‘n aantal moontlike benaderings en vrae geidentifiseer. Om ’n sinvolle analise te kan doen van die tekste is dit, eerstens, nodig om ’n deeglike studie van die ideologie, diskoers en perspektiewe rond die konsep van ‘grond’ binne die gekose Suid-Afrikaanse historiese fiksie te maak. Dan sal ‘n analise oor die impak van hierdie perspektiewe op die karakters en hul verhoudings met mekaar insiggewend wees. Vervolgens kan ‘n studie oor die verhoudings tussen gefiksionaliseerde historiese karakters, historiese gebeurtenisse en fiktiewe personages ‘n unieke invalshoek bied. Ten einde bied so ‘n studie van ‘grond’ as ‘n analitiese en simboliese konsep binne die Suid-Afrikaanse konteks ruimte vir vele interpretasies.
Laastens kan ons die rol van ‘grond’ en die implikasies daarvan in die kontemporêre Suid-Afrikaanse diskoers nie onderskat nie. Hoe kan ons aan die hand van herskrywing van die geskiedenis van ‘grond’ in die letterkunde, die blywende simboliek en krag daarvan binne die Suid-Afrikaanse sosiale verbeelding tot op hede vestaan?

‘n Studie met en oor ‘grond’ as ‘n analitiese invalshoek in die historiese fiksie van die 18de en 19de eeu kan bydra tot die uitbreiding van post-koloniale literêre kritiek. Verder sou dit help om kontemporêre debatte oor hierdie emosionele kwessie binne ‘n antropologiese, historiese en literêre konteks te plaas. Deur die letterkunde te bestudeer in verhouding tot die geskiedenis, kan beter insigte ontwikkel word in die koloniale vooroordele en wetgewing wat Apartheid sou word en hoe dit posgevat het in die Suid-Afrikaanse sosiale bewussyn en historiese verbeelding.

Aangehaalde bronne

Brown, D. (2006). To Speak of this land: Identity and Belonging in South Africa and Beyond. Scottsville, South Africa: University of KwaZulu-Natal Press.

Burger, W. (2015). ‘Historiese korrektheid en historiese fiksie: ‘n respons`. Tydskrif vir Letterkunde. Vol 52. No 2.

Coetzee, C. (2012). In the archive: Records of the Dutch settlement and the contemporary novel. In D. Attwell & D. Attridge (Eds.), The Cambridge History of South African Literature (pp. 138-157). Cambridge: Cambridge University Press.

Comaroff, J., Comaroff J. (1992). Ethnography and the Historical Imagination. Boulder, Colorado: Westview Press.

DeLoughrey, E., Handley G. B. (2011). Postcolonial Ecologies: Literatures of the Environment. Oxford: Oxford University Press.

Green, M. (1999). Social History, Literary History, and Historical Fiction in South Africa. Journal of African Cultural Studies, 12(2), 121-136.

Huggan, G., Tiffin, H. (2015). Postcolonial Ecocriticism: Literature, Animals, Environment. London: Routledge.

Johnson, D. (2012). Imagining the Cape Colony. Edinburgh: Edinburgh University Press Ltd.

Murray, J. (2010) Gender and Violence in Cape Slave Narratives and Post-Narratives, South African Historical Journal, 62:3, 444-462.

Penn, N. (2005).The Forgotten Frontier: Colonist and Khoisan on the Cape’s Northern Frontier in the Eighteenth Century. Cape Town: Double Storey Books and Athens, OH: University of Ohio Press.

Stoler, A. (2009). Along the Archival Grain: Epistemic Anxieties and Colonial Common Sense. Princeton University Press.

Viljoen, L. (2002). Kan die slaaf praat? Die stem van die slaaf in enkele Brink-romans, Stilet : Tydskrif van die Afrikaanse Letterkundevereniging, Volume 14, Issue 2, p. 92 – 116.

Dora Scott is verbonden aan de vakgroep Letterkunde (afdeling Nederlands) en het Gents centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika van Universiteit Gent.

This article was published in: Africa Book Link, Fall 2018: Afrikaans Literature.