Oor Jolyn Phillips se bundel radbraak (2017) | Louise Viljoen

Een van die boeiendste debute van die afgelope tyd in die Afrikaans poësie was dié van Jolyn Phillips wat in 2017 die bundel radbraak gepubliseer het. ’n Mens kan ’n verskeidenheid temas en preokkupasies in hierdie bundel identifiseer: die skildering van ’n bepaalde fisiese landskap en sosio-ekonomiese ruimte waarbinne die spreker in die bundel se identiteit gevorm word, die impak van migrasie na ’n nuwe omgewing, die vormgewende verhoudings met familielede soos die pa, ma en gestorwe broer, die droewige weeklag om gestorwe politieke helde uit die struggle teen apartheid, die ervaring van liefde, erotiek en sensualiteit, ensomeer. Vervleg met elkeen van hierdie tematiese gegewes is die bemoeienis met taal, die gemoeidheid met hoe elkeen van hierdie gegewes vorm gegee word in taal én op hulle beurt vorm gee aan die taal wat gebruik word in die gedigte. Binne die kort bestek van hierdie bespreking fokus ek dus op die hantering van taal in die bundel.

Resensente het reeds gewys op die belangrike rol wat taal in hierdie bundel speel (veral Marlies Taljard se resensie is belangrik in hierdie verband) en die digter self het in onderhoude verwys na die manier waarop die kwessie van taal aangekaart word in die bundeltitel radbraak. Sy verwys in ’n onderhoud met Marchelle van Zyl daarna dat sy die woord “radbraak” by die digter Wilma Stockenström opgetel het en baie opgewonde was oor die moontlikheid om die woord se ou Nederlandse betekenis (’n verwysing na die martelmetode waardeur mense se bene op ’n wiel gebreek is om hulle te straf of inligting te kry) te verken in haar werk. In hedendaagse Afrikaans het daar van die ou betekenis van die woord eintlik net die figuurlike betekenis oorgebly, onder andere die verwysing na “geradbraakte taal” wat verwys na verminkte, verknoeide of geskende taalgebruik. Phillips gryp as egte digter hierdie geleentheid aan om met die verskillende betekenisse van die woord te woeker. Sy vervorm en verwring dus die taal om die maksimum van betekenis daaruit te haal. Charl-Pierre Naudé skryf trouens in sy resensie van radbraak dat haar taal onder andere die “ryklik-herskape slagoffer van haar eie grille is”. Sy eksperimenteer egter ook met verskillende vorme van Afrikaans en ’n verskeidenheid van Afrikaanse stemme afkomstig van verskillende karakters wat in hierdie gedigte tot lewe geroep word. Phillips sê immers self in bogenoemde onderhoud met Marchelle van Zyl: “Ek is ’n simbiose van verskillende Afrikaanse”.

Een van die sterkpunte van hierdie bundel is die wyse waarop die leser uitgedaag word in die leesproses. Die radbraking van taal in hierdie bundel herinner op meer as een punt aan die uitsprake van die Russiese Formaliste oor poëtiese taal, naamlik dat poësie ’n vorm van georganiseerde geweldpleging teenoor taal is (Roman Jakobson) en dat dit ’n “grofmaak” oftewel “roughening” van gewone taalgebruik behels (Viktor Sjklovsky). Daar is drie gedigte wat sentraal staan ten opsige van die bemoeienis en spel met taal: “lyksang vir jou skollietaal”, “tong-trilogie” en die gedig waarmee die bundel afgesluit word: “diglossie”.

Die drie-delige “tong-trilogie” beklee letterlik en figuurlik die sentrale plek in die bundel. Die eerste “part” of deel van die gedig vertel die verhaal van die spreker se bewuswording van taal wanneer sy vir die eerste keer saam met haar pa en sy familie na Pêreberg gaan; dit is waar “die storie van my woord” begin, skryf sy. Dit gaan hier oor ’n spesifieke Suid-Kaapse landskap wat taal en woorde by haar wakker maak; dit is ’n landskap met dennebome, bietoubos en speldekussings, waar die wind jou in die gesig klap en die geeste van gestorwenes in armoedige grafte dwaal. Sy proe dit fisiek op haar tong wat tegelyk praat- en proe-orgaan is (“die woorde proe sierangs en nie vis nie”). Dit is ook ’n taal wat nie net deur mense gepraat en ervaar word nie, maar ook deur die natuurelemente gepraat word sodat sy begin “fluister vir die speldekussing” en kan luister na “die wind se geskinner” ten spyte van die feit dat sy deur haar pa se mense “tot ’n stilte” gelag word.

Die tweede part van die “tong-trilogie” verwys eksplisiet na die wyse waarop die digter die taal wat vir haar gevoer en geleer is, wil “ont-/taal”:

uit my liggaam wil ’n ander alfabet simfonie
ek is meer as net ’n vel-taal my liggaam ont-
taal die kronieke tong my tale is baie letters
wat uitmond my mond proe
na karring-tale ek is toegesluit
in die aswoensdag van my geboorte

Daar is ’n behoefte om ’n heeltemal nuwe alfabet uit haar liggaam te laat voortkom, ’n alfabet wat nie bepaal of beperk word deur dit wat vir iemand in haar posisie voorgesê is of vir haar voorgeskryf word nie. Haar taal kan nie gereduseer word tot ’n “vel-taal” nie, skryf sy in hierdie gedig – net soos wat sy in die onderhoud met Marchelle van Zyl sê dat haar werk “nie ’n stuk vel” is nie wanneer daar na haar verwys word as ‘n bruin digter. Die radbraking van bekende en konvensionele taalgebruik het dus ook te doen met die behoefte en die droom om taal uit te brei tot ver buite die grense van die bekende menslike taal: sy wil ook die taal van die speldekussings praat en verstaan wat die “die heelal / elke dag vir die fynbos fluister”.
Die derde part van die “tong-trilogie” verwys na die oopskiet van taal in ’n byna eindelose verskeidenheid. Sy skryf in die slotgedeelte van hierdie gedig dat haar ma sê “dis gevaarlik as mense / in tonge praat”. Die oënskynlik direkte vertaling van die Engelse uitdrukking “speaking in tongues” (om in tale te praat) beklemtoon die verbondenheid van taal met die tong as spraakorgaan waarmee daar ook geproe word. Ten spyte van haar ma se waarskuwing beklemtoon die spreker in die slot van die gedig dat sy besig is “bakstene aan te dra / vir ’n nuwe babel”, met ander woorde ’n nuwe vermenigvuldiging van tale. Die drie-tal gedigte in “tong-trilogie” is ’n liriese ontboeseming oor die sintuiglike plesiere en verreikende moontlikhede wat verskillende tale (ook dié van die surings, die wind en die speldekussings) die digter bied om haar self te verruim en oop te stel vir alles wat die heelal bied.

Die gedig “lyksang vir jou skollietaal” bied ’n verdere blik op die verskillende Afrikaanse wat die digter in haar werk ontgin. Dié gedig is ’n roerende gesprek van die spreker met haar gestorwe broer wat in Boys Town, ’n plek waar jeugmisdadigers aangehou word, die “skollietaal” aangeleer het waarna die titel verwys. Dit is enersyds die taal wat hom in staat gestel het om tussen misdadigers te oorleef, maar ook die taal wat hom uiteindelik “wit biene gemakit” (sy dood veroorsaak het). Die gedig vertel hoedat die “nongoloza” of leier van die bende waaraan hy behoort het sy kis gesalueer het by die begrafnis, maar terselfdertyd rondgekyk het vir nuwe rekrute omdat sy “ndodas” (manne) een vir een [vrek] in die perlemoenoorlog” (’n verwysing na die onwettige stroop en verkoop van perlemoen). Sy skryf dus hierdie gedig vir haar broer in “die skollietaal” wat hy geleer het in Boys Town, die “taal van die nommes” (die nommerbendes) en “sabela” (die geheime taal of kode wat tronkbendes gebruik om te kommunikeer). Sy gebruik die metafoor van iemand wat behaaglik teug of “skywe trek” aan ’n sigaret vir haar gebruik van die skollietaal om die gedig vir haar broer te skryf, voordat sy dit in ’n asbakkie dooddruk. Nadat sy dus hierdie vorme van Afrikaans gebruik het om haar gedig te skryf, neem sy afskeid van hierdie soort taal en die leefwyse wat dit verteenwoordig wanneer sy in die slotreëls van die gedig sê:

ek trek lang skywe met jou taal …. nip jou
in die asbakkie ek wil nie met my lewe so be-taal.

Tesame met die omarming van ’n verskeidenheid Afrikaanse, is daar dus ook sekere vorme van Afrikaans vir wie sy “’n lyksang” wil skryf omdat dit ’n bestaan verteenwoordig wat haar broer se lewe geëis het. Haar eie lewe gaan sy nie só verwoord of “be-taal” nie, sê die spreker in die gedig.
Terwyl “tong-trilogie” byna gelees kan word as ’n liriese lofsang op die taal wat sigself oopmaak om die fluisteringe van die heelal verstaanbaar en kommunikeerbaar te maak, teken die bundel se slotgedig “diglossie” ’n toestand waarin die duiwel of ten minste ’n soort triekster-figuur opgeroep word as medespeler in die digter se omgang met taal. In hierdie gedig word “taalgrafte” opgegrawe, uitgegrawe en oorbegrawe, fluister die duiwel die “taalsiekte”, is die spreker ’n “liegbek” wat self gebreek word by die “taalwiel”, is daar sprake van ’n “manteldraaiertaal” en verwys die spreker na haar “prostese-tong”. Phillips huiwer dus nie om ook met die donker kant van die kreatiewe proses en die spel met taal om te gaan nie. Sy wys dus ook op die taalspel as ’n vorm van duiwelskuns, brabbeling en misleiding waarmee sy die leser “verskalk” (verlei en mislei).

Phillips se radbraak is ’n bundel wat oorrompel en intrigeer deur die wêrelde wat sy byeenbring in taal. Daar is sprake van ’n gesofistikeerde bewussyn van taal se fisieke eienskappe (die smaak daarvan op die tong, die klank daarvan in die oor, die reuk daarvan in die neus) sowel as die vermoë van die taal as tekensisteem om uiteenlopende ervarings en werklikhede tot begrip te bring – en die belangrikste van alles, dat dit beide die digter se plesier en pyn is om taal oop te breek en nuut te maak in die poësie.


Verwysings:

Naudé, Charl-Pierre. 2017. Jong digter ‘verskalk’ haar leser behoorlik. Netwerk 24, 24 Julie. https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/jong-digter-verskalk-haar-leser-behoorlik-20170724.

Taljard, Marlies. 2017. Resensie: Radbraak – Jolyn Phillips. Versindaba, 24 Julie. http://versindaba.co.za/2017/07/24/resensie-radbraak-jolyn-phillips/.

Van Zyl, Marchelle. 2017. ‘My werk is nie ’n stuk vel nie.’ Onderhoud met Jolyn Phillips. Netwerk 24 15 September. https://www.netwerk24.com/Vermaak/Boeke/my-werk-is-nie-n-stuk-vel-nie-20170914.

The article was published in: Africa Book Link, Fall 2018: Afrikaans Literature